Wednesday 22 August 2012

Anglo-Boereoorlog en Niko die Boer van Georgië

Oplaas hulde aan ‘Niko die Boer’
Die Burger - 2012-03-31


Toe Nikolay Georgievich Bagrationi, die Georgiese prins van Tiflis (nou Tbilisi), einde 1901 uit krygsgevangenskap op die eiland St. Helena deur die Britse militêre vrygelaat is om na Georgië terug te keer, is hy as ’n held verwelkom.
En tot vandag toe is sy bynaam, Niko Buri (Niko die Boer), ’n towerwoord in dié land.

Só het ’n joernalis van Landbouweekblad, Hugo Lochner, agtergekom toe hy die land onlangs besoek en heel toevallig gas was by die opening van ’n voorlopige Anglo-Boereoorlog-museum in Tbilisi, hoofstad van Georgië, hoofsaaklik gewy aan Niko die Boer. Die museum- gebou is die Mukhrani-paleis van die adellike Mukhrani- Bagrationi-familie, waarvan Nikolay lid was. Hy is in dié paleis gebore.


In die kommunisties-bolsjewistiese rewolusie, wat in 1917 begin het, het die gepeupel die paleis geplunder en verwoes sodat dit vandag net ’n murasie is. Die regering van Georgië gaan dit nou restoureer om as volwaardige museum en inligtingsentrum te dien. Die hoof- fokus sal op Niko die Boer en die Anglo-Boereoorlog wees.

’n Gedenkplaat met inskripsies in Georgies en Engels is met die samewerking van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) aangebring. Dit lui: “Nico Bagrationi (Nico the Boer) was born and lived in this house. The memorial board was put up with the support of South African Boer farmers to honour the memory of Nico Bagrationi, Georgian patriot fighting for their freedom in 1899-1902.”

Die amptelike openingsplegtigheid op 5 November is gesamentlik behartig deur Georgië se minister van diaspora, Mirza (Papuna) Davitaia, en Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Die ABO-uitstalling bestaan tans uit uitstalkaste van glas en staal waarin foto’s, dokumente en inligtingstukke gemonteer is. Dit vertel die verhaal van die Boere se heldhaftige stryd teen die Britse Ryk wat die twee Boererepublieke van Transvaal en die Oranje Vrijstaat aangeval en verower het. Daar is onder meer ook foto’s van Nikolay as krygsgevangene op St. Helena, asook van sy familie. Sy herinneringe, Niko Bagrationi with Boers, saamgestel deur sy vrou, Anna Buchkiashvili, is spesiaal vir die openingsgeleentheid in sagteband heruitgegee. Daarin word ook die verloop van sy kinderjare en opvoeding vertel.

Die Transvaalse Landbou-unie is tans baie betrokke by die vestiging van Afrikaanse boere in Georgië, waar ’n groot behoefte aan landboukundiges bestaan. Hulle word met ope arms verwelkom, want vir die mense van Georgië is dit baie betekenisvol dat Afrikaanse boere verwant is aan die Boere vir wie Niko die Boer uit bewondering gehelp veg het.

Piet Kemp, een van Suid-Afrika se topboere van Mpumalanga en voormalige streekbestuurder van die TLU, het hom reeds permanent in Georgië gevestig nadat politieke intriges, grond-eise, arbeidsprobleme, mynregte en besoedelde water hom uit sy land gedwing het.

Dit is interessant en betekenisvol dat juis die regering van Georgië die TLU verlede Mei gekontak het om kundige Afrikaanse landbouers te werf.

...

Nikolay is in 1868 gebore en het ’n Franse opvoeding ontvang omdat Frans destyds in Oos-Europa as die belangrikste wêreldtaal gereken is. Synde ’n lid van die adel is hy in 1881 as verteenwoordiger van Georgië na die kroning van tsaar Alexander III van Rusland genooi. (Georgië was toe deel van Rusland.)

In 1899 is hy na Frankryk om die Parys-wêreldskou by te woon. Hy wou daarna op safari in Noordoos-Afrika gaan om onder meer trofee-luiperds te skiet, toe hy in Egipte verneem dat die Anglo-Boereoorlog op hande was. Toe aan hom vertel is dat die Boere voortdurend in konflik met Brittanje verkeer omdat laasgenoemde hul land wil annekseer, het hy daar en dan besluit om per skip na Mosambiek te vaar en van daar per trein na Pretoria te reis. Hy wou die Boere help om die Britte, wat hy gehaat het, te keer. Hulle het voortdurend die Turke aangemoedig en bygestaan om Georgië te bedreig.

In Pretoria het hy hom by kommandant-generaal Piet Joubert aangemeld as vrywilliger. Joubert was diep beïndruk deur die besonder lang, donker vreemdeling met sy uitheemse, kleurryke kleredrag en beervelmus. Trouens, Nikolay het oral aandag getrek met sy tradisionele Georgiese kostuum soos deur die adel gedra. Joubert het hom daarop voorgestel aan pres. Paul Kruger en ander lede van die generale staf van die Zuid-Afrikaansche Republiek, soos genls. Koos de la Rey en Piet Cronjé.
Kruger was verstom. Hy het nog nooit van Georgië gehoor nie, en hier was ’n prins in sy tradisionele drag in Pretoria om die Boere vir vryheid en reg te help veg.

Hulle het hom welkom geheet, en Joubert het dadelik gereël dat hy as offisier onder De la Rey ingedeel sou word. Toe hy wou vertrek, het die generaals hom om die beurt die hand gegee, maar Kruger het hom omhels en toe genooi om saam met hom na sy ampswoning te stap en saam met sy vrou, Gezina, koffie te drink.

Niko was Franssprekend, en toe hy verneem dat ’n Franse veteraan van die Krimoorlog, kol. Georges de Villebois-Marceuil, die bevelvoerder van die ZAR se Franse Korps was, het hy versoek om daarheen oorgeplaas te word. Die Fransman, wat alles van Georgië en sy adel geweet het, het Niko in sy korps verwelkom en aangestel as sy aide-de-camp (sekretaris te velde).

Niko, ’n uitstekende ruiter en skut, het hom vreesloos goed van sy taak gekwyt in verskeie gevegte teen die Britte. In die Slag van Abrahamskraal op 10?Maart 1900 was hy só dapper dat hy die bewondering van sy kamerade afgedwing het. En toe hy ’n proviand-wa, gelaai met kos en lekkernye, van die Britte kaap, het sy medestryders hom uitbundig op ’n kombers vasgedruk en soos op ’n trampolien daarmee in die lug gebons. Niko, ’n reus van oor die 2 m, wat 130 kg geweeg het, het hulle laat sweet.

Op 24 Maart 1900 het die Franse Korps besluit om ’n trein naby Kimberley, deur die Boere beleër, te kaap en die treinspoor te vernietig. Op 5 April het die voorhoede van die Britse ontsettingsmag onder bevel van lt.genl. Paul Sanford, lord Methuen, onverwags opgedaag en die stryd met die Franse Korps aangeknoop. Die meer as 700 Britte het die betreklik klein korps vasgekeer en verwoed met kanonne, gewere en bajonette aangeval. De Villebois-Marceuil is deur ’n bomskerf getref en is op slag dood. Niko is gevange geneem.

...

Methuen en die opperbevelvoerder van die Britse magte, genl. lord H.H. Kitchener, het baie in Niko belang gestel en hom ondervra. Toe Kitchener hom vra waarom hy, ’n Georgiese prins, teen die Britte in Suid-Afrika veg, was sy kordate antwoord: “Uit oortuiging.”

Hy het Kitchener daarvan beskuldig dat sy soldate die Geneefse konvensie oortree deur krygsgevangenes dood te skiet en dat hul onwettige veldtog teen die Boererepublieke deur ongekende wreedheid gekenmerk word.

Kitchener het gelas dat Niko as krygsgevangene na die eiland-tronk St. Helena gestuur word. Daar het Niko sy vernuf met perde aangewend om perdesport onder die Britte en Boere aan te moedig. Hy was ook ’n uitstekende skaakspeler en het ’n skaakstel met die hand uit hout gesny en aan die gevangenes se gemeenskapsentrum geskenk. Sy innemende geaardheid, sportmangees en grootmoedigheid het hom baie gewild by sy kamerade en hul Britse bewakers gemaak. Vir die Boere was hy hul held, en hy is met groot respek behandel.

Sy vrylating op 10 November 1901 is deur die Russiese diplomatieke diens bewerkstellig, maar hy moes self vir sy reis-koste per Engelse skip betaal. Hy moes die geld leen en kon dit eers terugbetaal nadat hy in Frankryk aangekom het en sy familie geld daarheen laat telegrafeer het. By sy terugkeer in Georgië het hy met sy vriende op St. Helena gekorrespondeer totdat ook hulle vrygelaat is.

Hy het in 1902 met Anna Buchkiashvili getrou. Die egpaar het ses kinders gehad, van wie twee jonk dood is.

Toe die rewolusie in 1917 uitbreek, het hy sy kinders na Frankryk gestuur. Hy en sy vrou het al hul besittings verloor en hul laaste dae in uiterste armoede geslyt. Gekleed in sy verslete tradisionele kostuum het hy sigarette op die dorpsplein verkoop om aan die lewe te bly.

Hy is in 1933 oorlede en in ’n onbekende graf begrawe – die kommuniste wou nie toelaat dat hy saam met sy voorsate in die dorpskerk ter ruste gelê word nie. Net die murasie van sy paleis het bly staan.


Die murasie van die Mukhrani-paleis in Tbilisi, Georgië, geboorteplek van Niko die Boer. Dit is verlede November as ABO-museum geopen en gaan gerestoureer word. Die opening is behartig deur Georgië se minister van diaspora, Mirza (Papuna) Davitaia (regs), en Bennie van Zyl (links), hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

2 comments:

  1. En so poog die hele wereld, in die verlede, vandag, ook more dat ons Boervolk die booste iets of frats is wat die aarde ooit al bewandel het. Wonderlik om te lees dat selfs hooggeplaasdes in die buiteland ons saak ook simpatiek gesind was en ook nog is. n Baie inpirerende stukkie geskiedenis om te lees. Baie dankie, ek het dit werklik met oorgawe geniet!

    ReplyDelete
  2. Ds Danie Malan, Hoopstad19 January 2014 at 15:59

    Voorwaar 'n merkwaardige inspirerende verhaal oor die manmoedigheid van 'n edelman uit 'n eens verdrukte volk wat sy lewe gewaag en opgeoffer het om die Boere in hul stryd teen die Britse ekspansionistiese imperialisme te ondersteun met sy krygsvernuf en dapperheid! Bravo aan die TLU en die huidige regering van Georgie om prins Niko Buri te vereer deur sy geboorteplek te restoureer en 'n museum op te rig! Ek begeer om dit moontlik te kan besigtig!

    ReplyDelete